GIF

Graphics Interchange Format
'n Roterende aardbol met 'n GIF-animasielêer uitgebeeld

Ontwikkelaar CompuServe
Aanvanklike vrystelling 15 Junie 1987 (1987-06-15)[1]
Nuutste weergawe 89a/ 1989 (1989)[2]
Bedryfstelsel Android, iOS, Windows Phone, Ubuntu Touch, Firefox OS, MS Windows, Linux, OS X
Kategorie Verlieslose bispatroon-beeldformaat
Webblad www.w3.org/Graphics/GIF/spec-gif89a.txt

Die Graphics Interchange Format (GIF ; /ɡɪf/ GHIF of /ɪf/ JIF) is 'n bispatroon-beeldformaat wat op 15 Junie 1987 deur 'n span by die aanlyn-diensverskaffer CompuServe ontwikkel is, onder leiding van die Amerikaanse rekenaarwetenskaplike Steve Wilhite. Dit is sedertdien wydverspreid op die wêreldwye web gebruik vanweë die wye ondersteuning en aanpasbaarheid tussen toepassings en bedryfstelsels.

Die formaat ondersteun tot 8 bisse per pieksel vir elke beeld, sodat 'n enkele beeld sy eie palet van 256 verskillende kleure kan kies uit die 24-bis RGB-kleurruimte. Dit ondersteun ook animasies en laat 'n aparte palet van tot 256 kleure toe vir elke raam. Hierdie paletbeperkings maak GIF minder geskik vir die reproduksie van kleurfoto's en ander beelde met kleurverloop, maar is geskik vir eenvoudiger beelde soos grafika of logos met soliede kleurareas. In teenstelling met video, ondersteun die GIF-lêerformaat nie klank nie.

GIF-beelde word saamgepers met behulp van die Lempel-Ziv-Welch (LZW) verlieslose datakompressietegniek om die lêergrootte te verminder sonder om die visuele kwaliteit te verswak. Hierdie kompressietegniek is in 1985 gepatenteer. Omstredenheid oor die lisensie-ooreenkoms tussen die houer van die sagteware-patent, Unisys, en CompuServe in 1994 het die ontwikkeling van die Portable Network Graphics (PNG)-standaard aangespoor. Teen 2004 het al die toepaslike patente verval.

  1. "Graphics Interchange Format, Version 87a". W3C. 15 Junie 1987. Besoek op 13 Oktober 2012.
  2. "Graphics Interchange Format, Version 89a". W3C. 31 Julie 1990. Besoek op 6 Maart 2009.

© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search